include_once("common_lab_header.php");
Excerpt for O Genade Katryn by , available in its entirety at Smashwords



Ons Stories

Surprise

Vat Jou Goed En Trek Ferreira

Bel Die Polisie

Smaaklike Ete

Groen Vingers

Die Koms Van Klein Boela

Ag Vos

Is Hier Rotte

Vang Boela Vang

Skoonpa Se Baaikostuum

Midnight Snack

Verlore Goedere

Sangria Is Lelik



Bonus verhale

Krokodille Het Baie Tande

Die Bye Is My Getuie

Sy Is Nie Jou Maat Nie

So Ietsie Oor Ons


Surprise

Ek is nou nie juis een vir snaaks aantrek nie, maar om `n vriendin tevrede te hou het ek ingestem om haar na `n fancy dress partytjie te vergesel.

Ook maar goed sy het my oortuig, want dit was nie lank nie toe geniet ek die partyjie meer as sy! Veral nadat ek daardie fris man met die geraamte pakkie raak gesien het. Die een wat so elke paar minute in my rigting geloer het…

Hy het my behoorlik uitgekyk. Eintlik net my senuwees op hol gejaag.

Ek was skoon bewerig toe hy my uiteindelik vra om te dans! Sjoe julle, en het ons gedans! Hy het beweeg soos Fred Astaire en my laat voel soos Rita Hayworth. Ek kon ook sê ek het gevoel soos “the belle of the ball”.

Doodmoeg na die aand se kuier en terug by my woonstel het ek vir my vriendin gesê dat enige man wat daai geraamte oor sy boepens kon aantrek en dit maak werk, ek beter moes leer ken. Dit was die aand wat alles vir my en Pieta begin het.

Ek en Pieta het skaars twee maande gekuier toe hy eendag vir my `n boodskap stuur om hom by Mugg n Bean te ontmoet. Dit was nie ons normale kuierplek nie en gewoonlik was dit te ver vir Pieta om te ry. Ek is nogal lief vir Mugg n Bean en met Pieta wat mos maar vol dinge kon wees, het ek my nie te veel daaraan gesteur nie.

Sommer so met die intrap slag kon ek sien Pieta is besig met `n ding. Daardie boerseun met sy two-tone hemp se smile was net te groot.

As ek reg onthou, was ons besig om oor my kar se diens te praat, toe hy skielik sê: “As jy binne die volgende uur vir jou `n ring kry dan trou ons”. Wat!?! Al wat ek kon uitkry was dat ek nog nie eers weet hoe sy ma lyk nie, en hy wil trou! “Jy hoef nie met haar te trou nie, net met my…” was al wat hy daaroor te sê gehad het.

Daar was seker niemand in die geskiedenis wat so vinnig soos ek `n ring kon kies nie. Omtrent 15 minute later was ons verloof. Heel toevallig dat Sterns oorkant Mugg n Bean is, nê? Slim man, die Pieta.

Die vreugdevure het behoorlik by my familie gebrand. My ma en my ouma het gehuil en gelag, alles deurmekaar. Ek het altyd gedink dit was omdat hulle so baie van Pieta gehou het, maar later het ek uitgevind dat hulle bang was ek sou nooit trou nie. Glo iets te doen met my sterk persoonlikheid.

Ek was nog nooit in my lewe meer senuweeagtig as toe Pieta gesê het dit was tyd dat ek sy ouers en die res van sy familie ontmoet nie. Dis darem `n groot ding om jou aanstaande skoonouers te moet ontmoet nadat jy aan hulle seun verloof geraak het.

Dit was op die langpad Pretoria toe dat Pieta voel hy moet net vir my sê dat sy ma vreeslik stil is. Stil maar baie vriendelik. Dit neem glo `n rukkie vir haar om te begin gesels, maar hy was seker dat hulle mal oor my sou wees.

Julle sal seker weet waar die tipe woonbuurte is waar die erwe soos plotte lyk, nê? Daardie woonbuurte waar elke huis groter as die dorp se hotel is? Want dis daar waar Pieta indraai en aankondig “Welcome to our humble abode!” Oe, eintlik is hy `n pes!

Maar nou maak ek nie `n grap nie… soos ons instap kom `n koekieafdruk van Madel Terblanche in 7de Laan ons tegemoet. Die tannie se hare was tot geset.

Wel as floute nie `n opsie is nie dan haal mens maar jou beste maniere uit, en groet ordentlik. As my ma net my mooi maniere kon gesien het: sy dink mos ek is die familie se rough diamond en so.

Dis ook waar ek uitgevind het dat Pieta nie `n feit laat inmeng met `n storie nie. Stil was darem ook nie die regte woord om sy ma te beskryf nie. Sy was regtig meer knorrig as stil. Nie dat dit gehelp het dat Pieta haar eers toé vertel het ons is verloof nie. Hy het tot die woord “surprise” gebruik!

Nadat die ergste skok oorgewaai het, het dinge so effens beter gegaan. My skoonma was net eers vir twee ure in die kamer met `n hoofpyn. Arme vrou sukkel glo met migraines, al was ek net daardie eenkeer by toe dit gebeur het.

Skoonpa was baie opgewonde dat Pieta so gelukkig was, maar my skoonma het die res van die naweek gebruik om vas te stel of ons eende in dieselfde dam sou kon swem. Dubbel en dwars seker gemaak dat ek nie `n fortuinsoeker of so was nie. Ek is tot vandag toe oortuig dat sy my agtergrond nagegaan het.

Dit was `n lang naweek, en ek was baie verlig toe dit tyd raak om te groet. `n Vrou kan darem net soveel spanning in een naweek hanteer. Ons sou darem na die tyd lekker oor die gebeure kon lag.

Oppad terug sê Pieta: “Bel sommer gou vir Bundu en hoor wanneer is die eerste beskikbare Saterdag vir `n troue”. Ek het nog nie eers kleur in my wange gehad na die naweek nie en hy soek datums!

“30 November” het die dame wat geantwoord het gesê, en Pieta het bespreek. Pieta wou nie sy ma so baie verskillende kere skok nie, so hy wou gou spring, sodat sy ma sommer die naweek se skok kon uitrek!

Dit was `n volle 8 weke om `n troue te reel. Ons sou mekaar nie eers 6 maande ken nie, dan was ons al voor die kansel! Pieta se flou grap was iets in die voege van “so what as die mense dink dis `n shotgun troue…”

Ons is getroud op 30 November, met 120 gaste as getuies.

Drakensberge toe vir die wittebrood, wat ook maar moes dien as `n vakansie na al die harde werk van so vinnig troue rëel. Alles was perfek totdat Pieta iets met sy pa wou bespreek. Ons kon nie anders nie. Ons moes Pretoria om ry voordat ons huistoe kon gaan.

Dit sou mos goed wees vir my en sy ma, en ons sommer die kans gee om mekaar te leer ken. Ja, so asof ek dit wou doen.

As ons gedink het sy ma warm bietjie op teenoor my, is ek seker die A3 vergroting van Pieta en Santie se matriekafskeidsfoto wat skielik op die esel gestaan het vertel `n ander storie. Goeie ou Santie… Pieta se eks meisie van hoërskool met wie hy vier jaar uitgegaan het.

Santie… my skoonma se vriendin wat nou en dan tee gedrink het en sommer haar ma saam gebring het. Hulle het mos `n lang pad saamgekom en gedink Pieta en Santie sou tog weer bymekaar uitkom. Dis nou totdat ek Pieta se voete onder hom uitgedans het!

En ja, Pieta en Santie se foto het vir jare nog daar gepryk.



Vat Jou Goed En Trek Ferreira!

Dis eers nadat Pieta bevorder is en ons Pretoria toe getrek het, dat ek besef het hy is net so tuis in die stad as wat hy was in die Laeveld.

Daar was nou nie veel huise beskikbaar in die area waar ons wou bly nie, maar ons kon darem een kry wat soort van kon werk. Die huisie was maar klein en Pieta was nou nie vreeslik beindruk dat die badkamer nie en-suite was nie.

Op die ou end het daardie selfde badkamer, wat `n entjie weg was, vir Pieta baie plesier verskaf.

Pieta het besluit dat dit vreeslik snaaks is om van die badkamer af kamer toe te hardloop as hy klaar gestort het. Sommer so “au naturel”. Juis so dat ek hom van die sitkamer af kon sien.

Met tyd het die kaal nael sy trefkrag verloor, en Pieta het kreatief begin raak. Pieta se volgende move (soos hy dit genoem het) kom reguit uit daardie Vodacom advertensie van die kat wat dans. Hy het homself mos so op die boud geklap. Al kon hy ook net twee keer klap voordat hy teveel begin giggel en weg gehol het.

Toe volg die meesterstuk. Die interflora! Dit sal nou wees waar hy deur die lug spring au naturel, of soos ons later ter wille van die kinders na sou verwys wat dalk mag afluister, was Pieta dan ou maskadel!

Alles werk mos maar goed, tot eendag. Pieta is `n groot man. Hy sal nie weer `n 100kg sien nie.

Pieta se “take off “ was perfek en selfs die interflora sprong was `n meesterstuk. Dis daai landing waar die probleem gekom het. Pieta was te vinnig vir sy nat voete op teels. Terwyl hy al skreeuend die kamer in gegly het, het hy besef hy was in die moeilikheid!

Hy sou moes probeer om `n bommie te maak tot op die bed, en so kon hy dalk stop.

Nou ja, so spring ou Tinkerbell na die beste van sy vermoë (dis nou as mens daai aksie spring kan noem), maar teen daai spoed land ou Pieta egter op die hoek van die bed.

Dis net pote wat breek, en kom ou Pieta tot ruste tussen die bedkassie en die bed. Verkeerde kant bo!

So iets sien mens net eenkeer in jou lewe. Dit was egter maar `n gemors om hom daar uit te kry met al die gelag. Gelukkig het hy nie seer gekry nie, dalk net sy ego. Ek het vir `n rukkie met nuwe oë na hom gekyk.

Vir 3 jaar slaap ons so op `n bed sonder pote. Dis maar ons geheim. Pieta was maar bietjie skaam oor die storie. Dit was ook eers toe skoonma kom kyk hoe vorder ons met die trek, dat iemand gesien het die bed het nie pote nie.

“Katryn, hoe breek mens `n bed?”. “Met moeite ma… met moeite!”



Bel Die Polisie!

Die vriende het gepraat, en Pieta het geantwoord. Dis tyd vir bosveld, braai en bier! Die 3 B`s.

Die vrouens sou moet saam sodat ons kon verstaan waaroor die jagnaweke gaan, en waarom dit vir hulle so belangrik is (so asof ons dit nie kon uitwerk nie!).

Teen Sondag besef ons egter hier kom moeilikheid, want die boepensbroers is nog lank nie klaar gekuier nie. Hulle het ook besluit dat dit baie beter is om eerder Maandag oggend vroeg terug tery. Daar is mos minder verkeer as op `n Sondag.

Ons sal by die werk moet reël, want die bakkies sal eers Maandag kan vertrek!

Wat dalk Sondag soos `n goeie plan geklink het was teen Maandag oggend nie so ‘n goeie plan nie. Met die terugry en sy foon wat sonder ophou gelui het, het Pieta besef dat dit dalk nie so ‘n goeie idee was om die naweek te verleng nie. Op `n Maandag is dinge mos maar altyd `n gemors by die werk. Die man sou so gou moontlik daar moes kom.

Al genade was om my sommer by die hek voor ons huis af te laai sodat hy kon ry. Nou kyk, ek is nie grand nie, maar ek word nie sommer net so langs die pad gedrop nie! ? nee á!

Knorrig oor die nuwe verwikkeling in ons huwelik, storm ek met die voedpadjie op huistoe, met die beste intensies om my ongelukkigheid die aand met Pieta te deel! My ma het altyd gesê: “`n Man blaas nie die hoeter dat jy uitkom nie. Hy kom haal jou by die deur”. So ek het gereken hierdie val onder daai kategorie.

Die huis was vreeslik donker toe ek instap, met al die gordyne wat toegetrek was. Al was dit helder oor dag, laat dit my nie soseer in my spore stop soos die gevoel dat iets net nie reg was nie.

So staar ek maar na die leë kombuisblad, en dit slaan my tussen die oë! My mikrogolf is weg! Al my borde ook! Dis nou as mens nie die 2 in die skottelgoedwasser tel nie!

Dit kom daarvan as Pieta dink hy is snaaks - Ons is beroof!

Met dié bel ek die polisie, want hulle sal moet kom kyk! Dalk het hulle nog `n kans om die diewe vas te trek! Dit kon vir al wat ons weet nou net gebeur het.

Al die ondervinding wat ek opgedoen het deur GI Jane te kyk, skop ook in en ek is reg vir `n fight! Niemand steel by my nie!!! Ek gee nie om hoe honger jy is nie!

Die enigste ding wat ek net nie kon verstaan nie, is dat die dief net my mikrogolf en borde gesteel het. Ek sou dink die TV was meer werd. Die polisieman het ook gereken dat dit effens vreemd was, maar in Suid Afrika het daar al vreemder goed gebeur.

Ons het net vasgestel dat al die deure nog gesluit was, toe my dierbare skoonma haar verskyning maak – borde en al! Mens kon dadelik sien sy is nie gelukkig nie! Ai, maar wanneer is sy ooit?

“Katryn, as jy my gebel het om te sê hier is fout, kon ek jou dalk gesê het ek het jou borde en mikrogolf geleen. Al moes ek sommer vir Chrisjan deur die venster tel. Hy kan mos al die deur oopmaak. Eintlik moes ek `n sleutel vir noodgevalle gehad het, maar nou ja!”

Klaar is sy toe ook nie. “Dis nie nodig om altyd te oorreageer nie. Hierdie polisiemanne het belangriker goed om te doen as om `n mikrogolf en `n paar borde te soek. Met die misdaadsyfers van vandag moet mens hulle net in die uiterste gevalle laat kom.”

Wie sal nou weet of ek meer skaam was voor die polisieman wat staan en giggel, en of ek so die hel in was dat ek niks kon uitkry nie. In Engels se hulle mos: “take the high road”. En ek vat hom toe ook.

Oppad na my skoonma se Mercedes om my besittings te gaan terughaal - polisieman in tou - besluit my skoonma om my bietjie gerus te stel.

“Jy moet nie bekommerd wees as ek jou goed leen nie, Katryn. Ek sal nooit dat dit met myne deurmekaar raak nie. Ma weet jou goedjies is splinternuut. Dis hoekom ek joune so mooi met `n rooi kolletjie cutex gemerk het.”

High road se gat! Dit is oorlog!



Smaaklike Ete!

Een van skoonma se grootste wense was dat sy op haar verjaarsdag nie sou hoef te kook nie. Dat sy net rustig kon kuier saam met al die gaste sonder om gedaan te wees van die heel dag se kos maak. Soos Pieta verduidelik het, reël skoonma al die verjaarsdae en geleenthede by hulle aan huis, want sy is goed ingerig daarvoor.

Die nadeel hiervan is dat dit vreeslike harde werk is, en skoonma nie regtig die dag kan geniet as sy die hele tyd moet rond hardloop nie. Dit was ook die rede dat hy dit goed gedink het om vir haar `n verjaarsdag ete by ons te hou. Ons verjaarsdag geskenk aan haar.

Al sou ek verkies het dat hy dit eers met my bespreek het, was dit seker maar die regte ding om te doen. Ek sou dit dalk `n paar jaar later eers aangebied het, maar nie te min, dit was te laat om kop uit te trek. Daai ete sou gebeur of ek nou wou of nie.

Skoonma se wens sou waar word. Sy sou op haar verjaarsdag kon terug sit en net met almal kuier. Iets waaroor skoonma vreeslik opgewonde was. Om ons harde werk te spaar, besluit skoonma toe ook om dit klein te hou, en nooi net 24 van haar naaste familie en vriende.

Daar was net een probleem. Mens beindruk nie maklik iemand soos sy met kos nie. Elke ete wat my skoonma voorgesit het was haarfyn beplan van die wyn tot die nagereg. Alles moet perfek by mekaar pas en ook so voorberei wees. Of dit Woensdag aand is of Sondag middag - as skoonma jou nooi word daar net die beste disse voorgesit.

Skoonma was die eerste vrou wat ek ontmoet het wat dit haar werk gemaak het om al tannie Emsie se boeke oor etiket te lees.

Die ongeskrewe reël is dat niemand in die familie sommer self `n verjaarsdagkoek bak of `n tert maak nie. Nee, jy bestel by skoonma. Ek kan nog die dag onthou toe Pieta se ouma vir my gesê het: “Hartjie, al hoor ek jy kan baie lekker koekbak, los ons dit maar vir Pieta se mammie. Dit laat haar tog so spesiaal voel om vir die familie te bak”.

Eerlik waar, het ek nooit voor die ete gewonder wat sy van my kos dink nie. Al wat ek weet is dat sy nog altyd baie gehou het van die tipe tamatiesous wat ek koop. Dit, of sy hou daarvan dat haar bord soos die slag van Bloedrivier lyk.

Hierdie uitnodiging het al hoe meer vir my soos `n oorlogsverklaring gevoel. Gewoonlik is dit mos lekker om vir iemand iets te doen, maar ai, dié het nie so lekker gevoel nie. Daar was net te veel moets en moenies na my sin. Week in en week uit moes ek luister na: “Die een eet nie dit nie en daai een eet nie dat nie. Onthou dat dit warm is, so `n vars slaai is dalk gepas. Katryn is jy seker jy sal regkom? Dis `n belangrike dag. Ek is al so gewoond hieraan, ek kan dit toe oë doen, maar vir jou is dit nuut.” Teen die tyd dat sy klaar met my was het ek in my eie vermoë getwyfel om eiers te bak!

Ai Pieta, bless his soul … Hart van goud maar vreeslik onkundig as dit by `n vrou en haar kombuis kom.

Vir dae het ek gesukkel met idees, maar niks wou werk nie. Mens hoef nie slim te gewees het om te besef die ete was `n ramp nog voor die rys gekook is nie.

Die ete sou my reputasies vir ewig bepaal!

Mens kan nie iemand beindruk as sy voel jy meng in haar besigheid in nie. Eintlik was ek ook nie eers braaf genoeg om te wou probeer nie. Hier was ek beslis uit my diepte. Daar was nie `n manier wat ek my skoonma sou kon beindruk nie.

Ons moes bestel…by die beste spyseniers. Dit was al genade. Dalk kon dit my `n maagseer spaar. Pieta wou mos dink hy is snaaks, so hy moes maar betaal.

Beste besluit van my lewe… die kos het fantasties gelyk. Dit was beter en baie meer as wat ek verwag het. Nee wat, alles was onder beheer. Nie eers skoonma sou iets met die kos kon fout vind nie.

Daar was geëet en gedrink, gedrink en geëet! Al het ek nie die komplimente verdien oor die kos nie, het ek hulle met `n glimlag aanvaar. Niemand kry mos seer as hulle dink ek KAN kook nie. Solank as wat Pieta `n geheim kon hou, was alles mos reg.

Met nagereg staan skoonma op om ietsie te sê:

Baie dankie vir al die vriende en familie wat my verjaarsdag saam met my spandeer het. Dit beteken vir my baie. Pieta en Katryn dankie vir al julle harde werk. Die kos was heerlik, dalk bietjie vars, maar nogtans lekker. En… gelukkig weet ek nou wat ek vir jou verjaarsdag kan koop. Ma gaan vir jou so ‘n paar mooi opskep bakke soek. Dankie julle.”



Groen Vingers

As daar een ding is wat ek in my hele lewe nog nie kon regkry nie, is dit om plante aan die lewe hou! Nie die in die tuin nie - die wat jy in potte plant vir jou stoep ensovoorts. Selfs my pietersielie het die tydelike met die ewige verruil!

Of dit nou `n broodboom of `n orgidee is: die uiteinde is maar gewoonlik dieselfde. Ek sou beter gevoel het as ek darem net een plant aan die lewe kon hou. Maar nee, dit wou net nie werk nie.

Dis dan ook nie snaaks dat Pieta my belet het om enige plante wat in `n pot kom vir myself of as `n geskenk vir iemand anders te koop nie. Mens moet op `n stadium jou tekortkominge in die gesig staar. Dit, en baie geld spaar.


Purchase this book or download sample versions for your ebook reader.
(Pages 1-11 show above.)